Short speech at Langeberg Sekondêre Skool: Prize Giving Ceremony (22 October 2013)
On the 22nd of October, some of the team travelled to Langeberg SS in Robertson to complete our team community interaction project. The event was the school's annual prize giving and we were invited to hand over certificates to the learners who had participated in our Leadership Series. I introduced Sibahle and myself to the audience and said a few words before we handed out the certificates. (Speech is in Afrikaans, the language of instruction at Langeberg, and the mother tongue of the majority of learners, parents, school staff and other attendees)
Goeie naand dames en here,
namens my spanmaats van die South Africa-Washington International Program (afgekort na SAWIP), wil ek julle graag bedank vir die geleentheid om vanaand hierdie spoggeleentheid met julle te deel. Ek vra ook namens die wat nie vanaand hier kan wees nie, om verskoning.
SAWIP is 'n 6-maande lange program vir jong Suid-Afrikaanse leiers van 3 Wes-Kaapse universiteite: Kaapstad, Stellenbosch, en die Universiteit van die Wes-Kaap. Die doel van die progam is om 'n diverse nuwe generasie van diens-gerigte leiers te inspireer, te ontwikkel en te ondersteun. Die waardes van die program is onder meer integriteit, respek en nederigheid.
Ons groep van 15 wat in 2013 aan die program deelgeneem het, het besluit om Langeberg te nader en in die skool se leierskapstruktuur ons projek te loods. Ons verwagtinge was om met 'n groep jong leerders met leierskapspotensiaal te kom gesels en van die vaardighede waaroor ons as 'n groep beskik, te deel. Die hoop was om 'n verskil te maak.
Wat toe gebeur het, is dat hierdie fantastiese leiers ONS lewens verryk het, verander het. Die energie en insig wat ons op die eerste Saterdag in hierdie einste saal ervaar het, het ons geïnspireer en opnuut laat besef dat die toekoms in die hande van die jeug is. Al is ons 'n paar jaar ouer, is ons trots om deel te vorm van dieselfde jeug as die Langeberg VRL. Hulle is 'n brawe en gedetermineerde groep. John F. Kennedy, destydse president van die VSA, het gesê dat elke mens 'n verskil kan maak, en daarom moet elkeen probeer. Dié VRL probeer en ons glo hulle maak 'n verskil.
Vir die ouers wil ons baie dankie sê. Sonder u belangstelling in die leerders se lewens sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie. Ons waardeer dit dat u moeite gedoen het om u kinders betyds by die sessies te kry,veral dankie vir die vroeg opstaan die Saterdagoggend toe hulle Stellenbosch toe is.
Dan wil ons ook vir die personeel van Langeberg bedank vir hulle ondersteuning. Dr Landman, vir u sê ons spesifiek dankie. U vertelling van Langeberg se leerderraad en die uitdagings wat die skool ervaar, het ons oorspronklik opgewonde gemaak oor die geleentheid om ons projek hier uit te voer.
Dit is my voorreg om nou die 2013 Langeberg VRL na vore te roep en aan elkeen 'n sertifikaat van deelname te oorhandig.
Baie dankie weereens vir die uitnodiging en geniet die res van die aand.







